Contracts TrainingSales Management TrainingBusiness Writing CourseProject Management CourseBusiness Communication Training

       ARTICLE

Internet kan jou lelik in die sop laat beland

Dec 2, 2009 08:41

FRIEDA LE ROUX, KAAPSTAD

Dít is die raad van ’n internet-regskenner oor die gebruik van sosiale netwerke wanneer jy ’n slegte dag by die werk gehad het.
Wêreldwyd beland al hoe meer mense in die moeilikheid by die werk oor wat hulle op webwerwe soos Facebook en Plaxo kwytraak, het me. Liza van Wyk, van ’n maatskappy wat ’n spesiale kursus oor informasietegnologie en die reg vir maatskappye aanbied, gesê.

Lasterlike uitlatings – soos dat jou baas dom of jou kollega ’n idioot is – is nie “minder ernstig” as jy dit in ’n medium soos ’n webwerf kwytraak nie.
Van Wyk stem egter saam met mnr. Paul Jacobsen, ’n prokureur, dat daar nog net een geval in Suid-Afrika was waar kommentaar op ’n sosiale netwerk tot ’n strafsaak gelei het: Duane Brady van Gauteng het sy werk verloor en is vroeg vanjaar weens crimen injuria aangekla nadat hy glo lasterlike boodskappe oor sy baas op die internet gepubliseer het.
Jacobsen, wat in web- en digitale media spesialiseer, het gesê die bewustheid van sosiale netwerke is heelwat laer in Suid-Afrika as in sommige oorsese lande.
Hy meen egter maatskappye kan gerus meer doen om hulself in te lig oor die implikasies wat dié medium vir hulle kan inhou.

Hoewel dit nie moontlik is om werknemers te verbied om dié webwerwe te gebruik nie, sal dit nuttig wees om ’n duidelike beleid saam te stel oor die maatskappy se verwagtinge.
Volgens Jacobsen lê die beperking by wat ’n soekenjin soos Google kan indekseer: ’n geslote gesprek op ’n sosiale netwerk kan nie deur Google “gelees” word nie en behoort daarom privaat te bly.

As die gesprek egter op ’n openbare platform plaasvind, sal Goo gle dit kan lees en só ander se aandag daarop vestig.
Op haar beurt sê Van Wyk werkgewers in Suid-Afrika kan nog nie juis hul werknemers se gedrag via sosiale netwerke volg nie.
Probleme ontstaan eerder wanneer ’n kollega dit aan iemand oorvertel.

Hier is twee maniere hoe om jouself of jou onderneming te beskerm:

  • Daar is maatskappye wie se werk dit is om ’n handelsnaam in die media te volg en só die algemene sentiment daaroor te bepaal.
  • As individu is dit slim om soms ’n Google-soektog met jou naam te doen en te kyk watter dokumente word onder jou naam gelys.

Te laat vir trane:
’n Kanadese vrou wat weens depressie met siekverlof was, het skielik besef haar siekefonds het sy uitbetalings aan haar gestaak. Toe me. Natalie Blanchard navraag daaroor doen, het die siekefonds gesê hy het foto’s op haar Facebook-profiel gesien waar sy by verskeie geleenthede vrolik en laggend met vriende verkeer. Dié saak word in Desember aangehoor.
’n Amerikaanse weermagoffisier, gestasioneer in Kosovo, het sy voorkeur vir sadomasochisme in detail op sy blog beskryf. Toe sy meerderes daarvan te hore kom, is sy rang verlaag.
Dalk eerder trane van vreugde: Mnr. Rodney Bradford het die tronk vrygespring danksy ’n inskrywing wat hy op Facebook gemaak het. Dit was moontlik om te bewys dié inskrywing is van sy pa se rekenaar in Haarlem, New York, gemaak op ongeveer dieselfde tyd dat die moord waarvan hy verdink is in Brooklyn ’n hele entjie daarvandaan, gepleeg is. Dit was onmoontlik vir Bradford om gelyktydig op twee plekke te wees – en Facebook is as bewys van sy onskuld gebruik.

Bronne: Sapa, www.nytimes.com

SOURCE:
Internet kan jou lelik in die sop laat beland - Die Burger